Hertog van Friedland
Prins van Sagan
Hertog van Mecklenburg (1628–31)
en
Generalissimus van die keiserlike Habsburgse magte (1625–34)
Gebore
24 September 1583
in
Hermanitz an der Elbe,[1] Boheme
Oorlede (vermoor)
25 Februarie 1634
in
Eger,[2] Boheme
Albrecht von Wallenstein, eintlik Albrecht Wenzel Eusebius von Waldstein, Tsjeggies Vojtěch Václav Eusebius z Valdštejna, was 'n Boheemse militaris en politikus, wat sy dienste – en 'n leër van tussen 30 000 en 100 000 man – gedurende die Deense periode (1625–1629) van die Dertigjarige Oorlog (1618–1648) aan die Heilige Romeinse keiser Ferdinand II aangebied het.
Wallenstein is twee keer benoem as die opperbevelhebber van die keiserlike Habsburgse strydmagte en het aan die kant van die keiser en die Katolieke Liga teen die Protestantse magte in Duitsland asook teen Denemarke en Swede geveg. Hy was een van die sentrale figure in die oorlog.
As 'n suksesvolle generalissimus het Wallenstein hertog van Friedland, 'n streek in Noord-Boheme, geword. Die keiser het egter moeg geword vir Wallenstein se ambisies en die generaal in 1630 uit sy diens ontslaan. Ná 'n aantal Protestantse oorwinnings oor die Katolieke magte is Wallenstein deur die heerser teruggeroep. Sy militêre vernuf het die gety nog eens gedraai in die voordeel van die keiserlike magte.
Wallenstein was nogtans ontevrede oor die behandeling wat hy van keiserlike kant af gekry het en het blykbaar 'n alliansie met die Protestantse moondhede oorweeg. Op keiserlike bevel is generaal Wallenstein in 1634 in die Noordwes-Boheemse stad Eger deur keiserlike offisiere, onder wie Walter Devereux, vermoor.